7. KAN EK BY 'N PADBLOKKADE IN HEGTENIS GENEEM WORD OP GROND VAN UITSTAANDE VERKEERSBOETES?
Nee. 'n Persoon kan slegs in hegtenis geneem word met betrekking tot vorige verkeersoortredings wanneer daar reeds 'n lasbrief vir sy inhegtenisname gemagtig is deur 'n landdros. So 'n lasbrief word tipies gemagtig wanneer iemand 'n dagvaarding verontagsaam. 'n Persoon kan nie in hegtenis geneem word slegs omdat hy "uitstaande verkeersboetes" het nie.
'n Kennisgewing wat per pos gestuur is, is nie 'n geldige dagvaarding nie. Vir 'n dagvaarding om geldig en bindend te wees, moet dit op die persoon self beteken word by sy woning of werksplek. In laasgenoemde geval moet die dagvaarding ontvang word deur 'n persoon 16 jaar of ouer. Die dagvaarding moet die spesifieke hof en datum van verskyning aandui. Neem wel kennis dat wanneer 'n verkeersbeampte 'n boete uitreik, daar gewoonlik reeds 'n verhoor datum toegeken is en die boete dan ook as dagvaarding geld.
Ten tyde van inhegtenisname mag die persoon aandring op 'n afskrif van die lasbrief. Indien die beampte wat die inhegtenisname wil uitvoer op versoek nie die afskrif van die lasbrief kan of wil oorhandig nie, is die inhegtenisname en daaropvolgende aanhouding onregmatig, selfs in die geval waar daar wel 'n geldige lasbrief was.
Die onregmatigheid van inhegtenisname of aanhouding, al dan nie, beïnvloed nie die persoon se aanspreeklikheid vir die oorspronklike verkeersoortreding of wanverskyning in die hof nie. Wanneer daar 'n onregmatige inhegtenisname of aanhouding plaasgevind het, moet die slagoffer skadevergoeding teen die staat eis.
Enige persoon wat deur 'n verkeersbeampte in hegtenis geneem is, moet onmiddellik na die SAPD-stasie of die hof wat die lasbrief uitgereik het, geneem word. Verkeersbeamptes word nie toegelaat om persone langs die pad aan te hou terwyl die padblokkade voortduur nie en mag ook nie die persoon na 'n bankteller neem om geld te trek vir die "boetes" nie. Die enigste doel vir inhegtenisname, is om sodoende die persoon voor die hof te bring sodat hy aangekla kan word. Dit is nie veronderstel om gebruik te word om lede van die publiek lastig te val of te intimideer sodat hulle hulle boetes betaal nie.
Art 54(2)(a) van die SPW
Art 39(2) van die SPW
Minster van Veiligheid en Sekuritiet V Rautenbach 1996 (1) SA 720 (A)
Mahlongwana v Kwatinidubu Town Council 1991 (1) SACR 669 E
Duncan v Minister of Law and Order 1984 (3) SA 460 (T)
