23. HOE WORD MINDERJARIGES ANDER AS VOLWASSENES BEHANDEL?
Ingevolge die Grondwet, het elke kind (onder 18 jaar) die volgende regte, onder andere die reg tot:
- Versorging;
- Basiese voeding, skuiling, gesondheids- en maatskaplike dienste;
- Beskerming teen verwaarlosing, mishandeling en aftakeling;
- Aanhouding slegs as 'n laaste uitweg;
- Aanhouding vir die kortste moontlike tyd;
- Aanhouding slegs saam met persone 18 jaar en jonger;
- Regsverteenwoordiging op staatsonkoste;
- Inagneming van die kind se belange in elke saak wat hom raak.
Inhegtenisname en aanhouding terwyl verhoorafwagtend
Elke persoon word voor skuldigbevinding onskuldig geag. Kinders behoort net in hegtenis geneem te word indien 'n dagvaarding of skriftelike kennisgewing nie effektief sal wees nie. In die meeste gevalle word kinders nie in hegtenis in die normale sin van die woord geneem nie. Gewoonlik sal die ondersoekbeampte reëlings tref dat die kind se ouer of voog hom na die polisiestasie toe bring. Waar dit nodig is, sal 'n kind wel soos enige ander verdagte in hegtenis geneem word. Enige kind moet voor sy eerste hofverskyning deur 'n proefbeampte geassesseer word. 'n Proefbeampte is 'n maatskaplike werker in diens van die staat. Die proefbeampte maak 'n aanbeveling aan die hof rakende waar die kind geplaas moet word terwyl hy verhoorafwagtend is. Kinders sal meestal in die sorg van hulle ouers geplaas word, of in spesiale aanhouding fasiliteite gehou word, wat bekend staan as "'n plek van veiligheid." 'n Kind sal slegs in 'n tronk aangehou word in uiterste gevalle.
Verhoor
Kinders, en spesifiek eerste oortreders, word meestal nie vir mindere oortredings vervolg nie. In so 'n geval, sal die kind ingeskryf word in 'n afwenteling program soos dié wat deur NICRO aangebied word. Indien die minderjarige so 'n program voltooi, word die klagtes teen hom teruggetrek.
Oor die algemeen is strafverhore oop vir die publiek. Waar een van die beskuldigdes 'n minderjarige is, word slegs hofamptenare en die kind se ouers of voogde by die verrigtinge toegelaat. Die res van die verhoor is dieselfde as dié vir 'n volwassene.
Vonnisoplegging
Die oogmerk van vonnisoplegging by minderjariges, is om die kind te herintegreer in die samelewing sodat hy 'n opbouende bydrae kan maak.
In die praktyk sal 'n strafhof altyd 'n voorvonnisverslag van 'n proefbeampte of korrektiewe beampte aanvra. Die verslag is 'n vereiste waar die minderjarige 'n ernstige oortreding begaan het of waar hy vorige veroordelings het. Artikel 40 (1) en 40 (2) van die Konvensie van Kinderregte bepaal dat 'n hof sy wye magte by vonnis met simpatie sal toepas en sodoende 'n gepaste vonnis oplê.
'n Hof sal gewoonlik alle opsies uitput voor tronkstraf as vonnis oorweeg word.
Child Justice Act 2009
Dit word verwag dat die nuwe wet in werking sal tree op 10 April 2010. Die wet se oogmerk is die oprigting van gespesialiseerde kinderhowe om sodoende 'n gepaste omgewing vir minderjarige oortreders te skep. Nuwe "Child Justice Centres" word daarop gemik om al die fases van die strafregstelsel in te sluit waar minderjariges betrokke is. Die wet reguleer die hele proses van inhegtenisname tot appèl.
