criminallawyers.co.za Criminal Lawyers Lees in Afrikaans Read in isiZulu Read in Setswana Read in isiXhosa Read in English

25. WAT IS DIE DOEL VAN VONNISOPLEGGING EN WAT IS DIE FAKTORE WAT DIE HOF IN AG NEEM?

Dit is voor-die-hand-liggend dat diegene wat aan 'n misdaad skuldig bevind is, mee gehandel moet word in 'n wyse wat die publieke orde in stand hou. Daar moet altyd balans gehandhaaf word tussen die belange van die krimineel en die van die gemeenskap.

Die verskillende doele (of teorieë) van bestrawwing, sluit die volgende in:

  • Vergelding:

hierdie is die oudste teorie. Dit behels dat die pleging van 'n misdaad die balans in die orde van die samelewing versteur en indien die oortreder gestraf word, die balans herstel is.

  • Voorkoming:
  • die doel van die voorkomingsteorie is eenvoudig om misdaad te voorkom. Voorbeelde van strawwe wat voorkoming bevorder, is lewenslange gevangenisstraf, verklaring as 'n gewoontemisdadiger, verklaring as 'n gevaarlike misdadiger, deportasie van onwettige uitlanders en die verbeur van 'n bestuurderslisensie. Afskrikking:

volgens hierdie teorie, word lede van die publiek van misdaad afgeskrik deur die moontlike tronkstraf wat daarop kan volg. Hierdie teorie berus op die uitgangspunt dat mense 'n sorgelose lewe, eerder as 'n lewe vol probleme verkies en daarvolgens elke handeling noukeurig oorweeg.

  • Hervorming:

die doel van hierdie teorie is om oortreders te verander in wetsgehoorsame burgers. Die klem word op die oortreder se persoonlike omstandighede geplaas.

Waar 'n hof 'n vonnis oorweeg, word daar gereeld van die sogenaamde Zinn-driehoek van Faktore gebruik gemaak.

Hierdie faktore word hieronder bespreek:

  • Die persoonlike omstandighede van die beskuldigde

Dit word algemeen aanvaar dat 'n vonnis nie net by die misdaad moet pas nie, maar ook by die misdadiger. 'n Hof sal altyd die oortreder se ouderdom, opvoeding, vorige veroordelings, huislike omstandighede en werksomstandighede in ag neem. Die feit dat 'n beskuldigde berou toon vir sy dade (soos wanneer hy skuldig pleit of met die polisie saamwerk) is een van die sterkste versagtende omstandighede.

  • Aard van die misdaad

Hoe ernstiger die misdaad, hoe swaarder moet die vonnis wees. Presies hoe ernstig 'n misdaad is, word bepaal uit die oogpunt van die gemeenskap. Vir spesifiek hierdie rede het die Parlement sekere minimum vonnisse voorgeskryf wat opgelê moet word vir sekere ernstige misdade.

Faktore wat hier van belang is, is die waarde van gesteelde goedere, of die beskuldigde uitgelok is, erns van moontlike beserings of 'n goeie motief.

Waar misdade gepleeg is teenoor kwesbare persone, soos vroue, kinders en bejaardes, sal so 'n feit ter verswaring van vonnis in ag geneem word. Dit is ook die geval waar misdaad vooraf beplan of baie grusaam was.

  • Belange van die gemeenskap

Dit is duidelik dat die gemeenskap se belange beskerm moet word wanneer daar 'n vonnis opgelê word. Die eise wat die gemeenskap stel, beskerming van die gemeenskap teen misdadigers, asook die behoud van vrede word hier in ag geneem.

Terug na vrae